Quantcast
Viewing all articles
Browse latest Browse all 830

Graad 7: Lewenswetenskappe – hidrobreking en skaliegas in die Karoo en die impak van brandstofproduksie op die omgewing

Image may be NSFW.
Clik here to view.

’n Skaapplaas in die Karoo waar geen hidrobreking nog plaasgevind het nie laat ruimte vir die natuurlike ekosisteem om steeds voort te bestaan. (Foto: verskaf)

Die ontginning van skaliegas in die Karoo was die afgelope jare die onderwerp van baie debatte. Die proses is tydelik gestaak om tyd toe te laat vir beter navorsing, maar kan nou weer in volle swang voortgaan. Maar wat is die impak daarvan op die omgewing?

Wat is skaliegas en waar kom dit vandaan?

Wat ons vandag as die droë Karoo ken, was in die verlede ’n groot meer en vol water. Binne hierdie meer het modder en ook plantmateriaal opgehoop omdat die water stilgestaan het. Vir plantmateriaal om te ontbind en in kompos te verander, het dit suurstof nodig. Wanneer dit egter onder water lê, is daar nie suurstof beskikbaar nie. Die groot hoeveelheid modder wat ook mettertyd bo-op die plantmateriaal versamel, raak baie swaar. Plantmateriaal wat in sulke anaërobiese (afwesigheid van suurstof) toestande onder sulke druk geplaas word, verander geleidelik in olie en gas. Die modder rondom die plantmateriaal verander in skalierots. Die Karookom, soos die meer vandag bekend staan, het mettertyd opgedroog en hierdie olie en gas lê nou vasgevang tussen die skalierotslae omtrent 1 tot 4 kilometer onder die grond.

Wetenskaplikes meen dat daar spesifiek baie van hierdie gas onder gedeeltes van die Karoo wat in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap val, lê. Dit sluit areas rondom Beaufort-Wes, Middelburg, Williston, Fraserburg en Victoria-Wes in.

Skaliegas is ’n aardgas wat beteken dat dit deur natuurlike prosesse ontwikkel het vanuit lewende organismes. Aardgas is ’n soort fossielbrandstof. ’n Ander meer bekende fossielbrandstof is steenkool, waarmee die meeste van ons elektrisiteit vandag opgewek word. Om elektrisiteit op te wek moet hierdie fossielbrandstowwe verbrand word. Skaliegas bestaan hoofsaaklik uit metaangas wat “skoner” brand as steenkool. Steenkool laat koolstofdioksied vry wanneer dit brand. Koolstofdioksied is hoofsaaklik verantwoordelik vir aardverwarming, alhoewel metaangas ook bydra.

Hoe word skaliegas ontgin?

’n Vertikale boorgat word omtrent ’n kilometer diep in die grond in geboor tot by die rotslaag waarin die skaliegas vasgevang is. Binne hierdie gat word ’n staalpyp gesit om die gat in plek te hou. Die boonste gedeelte van die staalpyp word ook verstewig met ’n sementomhulsel. Dit help alles om te voorkom dat die gat toeval en dat enige besoedelde water of gasse op die verkeerde plekke uitkom.

Ongeveer 150 meter bo die rotslaag waarin die gas vasgevang is draai die boorgat horisontaal in alle rigtings. Op hierdie manier kan tot 400 hektaar se skalierotse ondergronds gedreineer word vanaf ’n bogrondse myngebied van slegs 2 hektaar. Dit voorkom dus dat te veel van die bogrondse plante, diere en omgewing versteur word.

Om die gas tussen al die rotse uit te kry moet die rots gebreek of gekraak word. Dit word gedoen deur hidrobreking. Hidrobreking is die proses waardeur water, gemeng met chemikalieë en sand, teen ’n baie hoë druk in hierdie boorgate ingespuit word. Die skalierotse breek of kraak dan en die gas kan ontsnap. Die krake waardeur die gas ontsnap word oopgehou deur die sand in die watermengsel. Die watermengsel word dan weer uit die boorgat onttrek en die gas kom saam met dit na die oppervlak. Die gas word opgevang en vervoer na ’n ander plek waar dit verbrand word om elektrisiteit op te wek. Die water word gestoor om weer in ’n volgende boorgat gebruik te word of om skoongemaak te word sodat dit weer in die natuurlike omgewing gebruik kan word.

Image may be NSFW.
Clik here to view.

Skaliegasontginning in die Karoo (prent: verskaf)

Wat is die impak op die omgewing?

Die omgewingselement wat die grootste risiko loop om vernietig te word, is water. Water is reeds baie skaars in die Karoo. Mens, dier en plant is afhanklik van water. Sonder water gaan ons almal dood.

Tot 15 miljoen liter water is per boorgat nodig vir die hidrobrekingproses. Soveel water is nie beskikbaar in die Karoo nie en sal met ’n pyplyn vanaf die Oranjerivier aangebring moet word, of met trokke aangery moet word. Die konstruksie van so ’n lang pyplyn sal ’n groot gedeelte van die omgewing vernietig. Alternatiewelik sal die brandstofverbruik en uitlaatgasse van ’n groot hoeveelheid trokke bydra tot beduidende lugbesoedeling.

Meer as ’n duisend soorte chemikalieë word dan met hierdie water gemeng voor dit in die boorgate gespuit word. Die water word dus onmiddellik giftig en onbruikbaar gemaak vir enige mens, dier of plant. Sommige van die chemikalieë word geheim gehou en op ander is daar nog geen studies gedoen om te bepaal hoe toksies dit regtig is nie. Die chemikalieë wat wel bekend is, hou reeds belangrike gesondheidsrisiko’s vir mens en dier in. Dit is om die minste te sê skadelik vir die ekologie.

Wanneer die water weer uit die boorgat onttrek word, is dit nou ook gemeng met metaangas. Hierdie gas kan deur die proses vrygelaat word en mens en dier siek maak. Die water wat onttrek word, kan potensieel skoongemaak en weer in die omgewing teruggeplaas word, maar hierdie proses is baie duur. Die skadelike stowwe wat uit die water onttrek word, moet vervoer word na ’n gelisensieerde fasiliteit wat so ver as Kaapstad kan wees.

Wanneer die watermengsel onder druk in die boorgat gespuit word, word ’n groot hoeveelheid druk op die rotsformasies ondergronds uitgeoefen. Dit is juis sodat die rotslae kraak, maar wáár die rotslae gaan kraak is onvoorspelbaar. Alhoewel die rotslae wat skaliegas bevat, baie dieper as die watertafel lê, bly die risiko baie groot dat die krake groter en langer kan wees as verwag. Hierdie giftige watermengsel kan dan tot by die ondergrondse watertafel dring en dit besoedel. Die meeste van die huishoudelike water in die Karoo is afkomstig van boorgate wat die water uit die ondergrondse watertafel pomp. Hierdie mense en diere sal dan net giftige water hê om te gebruik.

Verder kan die krake in die rotse die bodem van die ondergrondse watertafel beskadig. Hierdie water kan dan wegdreineer en boorgate vir huishoudelike gebruik sal nie meer water lewer nie.

Breking van die rotslae kan ook klein aardbewings veroorsaak omdat dit die ondergrondse rotslae onstabiel maak.

’n Volgende belangrike impak op die omgewing is lugbesoedeling. Alhoewel dit dalk minder kan wees as vir die tradisionele koolstof, speel die verbranding van skaliegas ook ’n rol in klimaatsverandering. Gedurende die ontginningsproses is daar ook die risiko dat metaangas vrygelaat kan word. Metaangas is selfs meer giftig as koolstofdioksied en kan mense baie siek maak. Swanger vrouens en hul ongebore babas beloop die grootste risiko.

Die groot hoeveelheid trokke wat water moet aanry en weer die ontginde gas moet wegry, laat ook ’n klomp uitlaatgasse vry wat bydra tot ’n verswakte luggehalte.

Dan is daar ook die fisiese skade aan die grond en plantegroei en daarmee saam die vernietiging van die habitat van verskeie diere en insekte. Die Karoo is ’n sensitiewe ekosisteem en ook ’n biodiversiteit warmkol, wat beteken dat daar besonder baie verskillende plant- en dierspesies hier voorkom. Die oprig van hierdie mynimplemente in areas waar baie endemiese plantspesies voorkom kan lei tot die uitsterf van die spesies as gevolg van habitatfragmentasie en -versteuring. Nie net die boorgat self nie, maar ook die paaie wat die boorgate met mekaar verbind, veroorsaak dat die Karoo nou in stukkies opgebreek word. Bedreigde spesies kan dus nie meer so maklik by mekaar uitkom om voort te plant nie.

’n Groot hoeveelheid trokke en ander voertuie sal begin gebruik maak van die bestaande paaie. Dit kan lei tot slaggate en gronderosie as die paaie nie voldoende onderhou word nie. Die Karoo is reeds sensitief vir gronderosie, omdat die plantegroei nie baie dig is nie en die grond blootgestel is aan die wind en weer.

Met die toestroming van mense wat op die myne werk, sal daar ook heelwat meer afval geskep word, wat hanteer moet word of die omgewing sal besoedel.

Hidrobreking in die Karoo is net een voorbeeld. Die ontginning en produksie van ander brandstowwe, metale en selfs plastiek het als hul eie impakte op die omgewing. Die meeste mense is nie eens bewus van die impak nie, omdat hulle nie die myne werklik sien nie en nie daaroor ingelig word nie. Uiteindelik moet ’n mens baie mooi oorweeg wanneer die risiko’s en omgewingsimpakte swaarder weeg as die nut van die produk wat ontgin word. Soms is ’n produk regtig nodig vir ons om te kan oorleef. In baie gevalle is daar alternatiewe produkte wat op ’n minder skadelike manier ontgin kan word. Uiteindelik is ons afhanklik van die natuur vir ons eie oorlewing en moet ons mooi besluit hoeveel daarvan ons kan opgee, voordat ons onsself in die voet skiet.

Lees ook:

Graad 8: Lewenswetenskappe – aanpassings vir oorlewing in die droë Karoo

Lewenswetenskappe: Predator of prooi? Die mierleeu se plek in die ekosisteem

Lewenswetenskappe: Chlorofil, fotosintese en blaarmyners – hoe om groen te bly

Lewenswetenskappe: Liewenheersbesie – of ’n monstertjie?

Lewenswetenskappe: Gee paddas vratte?

Lewenswetenskappe: Blou pajamas en muskiete

The post Graad 7: Lewenswetenskappe – hidrobreking en skaliegas in die Karoo en die impak van brandstofproduksie op die omgewing first appeared on LitNet.

The post Graad 7: Lewenswetenskappe – hidrobreking en skaliegas in die Karoo en die impak van brandstofproduksie op die omgewing appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 830

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>