Quantcast
Viewing all articles
Browse latest Browse all 830

Hulp vir opvoeders: ’n bespreking van Loftus Marais se "Verkeerswaarneming"

Image may be NSFW.
Clik here to view.

https://pixabay.com/illustrations/driver-traffic-man-vehicle-angry-5786816/

Charmaine Visser, ’n LitNet-leser, het die volgende navraag gestuur: Ek is ’n opvoeder en soek onbehandelde gedigte om my leerders mee te toets. "Verkeerswaarneming" deur Loftus Marais interesseer my. Waar kan ek ’n bespreking van die gedig kry?

Die LitNet-redaksie het Dewald Koen genader om haar navraag te beantwoord. Hy het die volgende bespreking gestuur:

Afrikaans Huistaal – Bespreking van Loftus Marais se “Verkeerswaarneming” as voorbeeld van ’n ongesiene gedig

Die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (2011:26) vir Afrikaans Huistaal (VOO-fase) beklemtoon die volgende ten opsigte van poësieonderrig:  

Daar is twee kernvrae wat leerders oor ’n gedig moet vra:

  1. Wat word gesê?
  2. Hoe weet ek dit?

Die tweede vraag dien as motivering van die eerste; die eerste vraag bepaal wat deur die tweede vraag geopenbaar sal word.

Alle skrywers van letterkundige werke skryf omdat hulle iets het om te sê – iets wat hulle as interessant beskou en gewoonlik van belang is vir die kultuurgroep vir wie hulle skryf.

Ons bestudeer die teks om te ondersteun, te bevestig en te verklaar wat die skrywer aan ons wil sê.

Hierdie aktiwiteit behels onder andere dat die volgende ondersoek word: figuurlike taalgebruik, hoe sinne en versreëls en die gedig as ’n eenheid aangebied word; die keuse van beelde, ritme, tempo en klank, asook die emosies wat beelde opwek.

Dit word alles gedoen om ’n tentatiewe afleiding of gevolgtrekking te maak oor wat die digter wil hê ons moet ontdek as die betekenis van die teks. Daar is nie altyd finaliteit met betrekking tot die interpretasie van ’n gedig nie.

Aspekte van ‘n teks wat hier onder gelys is, ondersteun die boodskap of tema van ’n gedig of ander teks:

  • letterlike betekenis (denotasie)
  • figuurlike betekenis (konnotasie)
  • stemming – die atmosfeer in die teks (Hoe laat die gedig die leser voel,  byvoorbeeld gespanne, hartseer, woede, liefdevol ens?)
  • tema en boodskap
  • beeldspraak, stylfigure, woordkeuse, toon, retoriese middels, emosionele reaksies, versreëls, woorde, strofes, punktuasie, refrein, herhaling, tipografie, enjambement en klankeffekte soos alliterasie en assonansie, rym, ritme en klanknabootsing.

Die ongesiene gedig word in Vraestel 2 geëksamineer en bestaan uit kontekstuele vrae (10 punte).

Vir die doel van hierdie bespreking word Loftus Marais (1982–) se gedig “Verkeerswaarneming” uit sy tweede bundel, Kry my by die gewone plek aguur (2012) gebruik.

Verkeerswaarneming

1
2
3
4
5
6

7
8
9
10
11
12

die mevrou met hande tien-voor-twee
op die stuurwiel van haar bmw
ry ín voor die taxi met die naam
ROAD RACER (wat in sierskrif op die agterruit staan)
        die taxi se spoed is net liggies gebreek
maar soos dit verby die bmw steek

spoeg die bestuurder, terwyl hy sy vinniger spoed behou
op die ruit van die wit mevrou 
en dis nie eintlik tóé nie, maar toe sy sonder skok
en met ’n tipe takt haar veërs aansit
dat ek besef (en hierso neem ek die afrit)
ons gaan dit nie haal nie, ons land is gefok.

 

Bespreking

  • Die gedig bestaan uit twee strofes met twaalf versreëls.
  • Rymskema: paarrym (strofe 1: a, a, b, b, c, c) en gebroke rym (strofe 2: d, d, e, f, f, e).
  • Die feitlike afwesigheid van leestekens asook die twee inkepings (tipografie) in die gedig beklemtoon die chaotiese wyse waarop die motoriste bestuur.
  • Die spreker in die gedig is die motoris wat die interaksie tussen die taxibestuurder en die wit vrou in die BMW waarneem.
  • Die spreker is aanvanklik geskok oor die taxibestuurder wat op die vrou se venster spoeg, maar die ware skok tree eers in toe hy besef dat die spoeg op die vrou se voorruit haar min skeel, aangesien sy “met ’n tipe takt haar veërs aansit”.
  • In sy geheel lewer die gedig kommentaar op die komplekse verhoudings tussen verskillende rasse asook sosio-ekonomiese klasse in ’n demokratiese Suid-Afrikaanse samelewing. Die spreker is van mening dat Suid-Afrikaners nog ’n lang spreekwoordelike pad sal moet stap om rasseharmonie te bewerkstellig. Die gebruik van die woord “gefok” dui op die indringendheid asook moedeloosheid van die spreker se gevoel omtrent die gebrek aan goeie verhoudinge tussen persone van verskillende rasse en sosio-ekonomiese klasse in die Suid-Afrikaanse konteks.

 

Kontekstuele vrae en memorandum

Vraag 1

Verduidelik die titel van die gedig. [1]

Die titel verwys na die spreker wat die interaksie tussen die vrou in die BMW en die taxibestuurder waarneem terwyl hy in die verkeer is. (Hy aanskou dus die gebeure vanuit sy eie motor.)

Vraag 2

Is die volgende stelling WAAR of ONWAAR?

Die bestuurder van die BMW ry met haar hande tien-voor-twee op die motor se stuurwiel aangesien dit haar beheer oor die motor verbeter. [1]

Waar

Vraag 3

Waarom is dit van belang dat die woorde “ROAD RACER” op die taxi se agterruit staan? [1]

Die taxi ry vinnig en versnel wanneer hy die bestuurder van die BMW verbysteek.

Vraag 4

Haal ’n voorbeeld van alliterasie uit die tweede strofe aan. [1]

sy sonder skok”  / “tipe takt” (die leerder moet die alliterende frases tussen aanhalingstekens aandui)

Vraag 5

Lees die vraag en kies die korrekte antwoord deur slegs die LETTER neer te skryf. [1]

Waarom laat die spoeg op die “ruit van die wit mevrou” haar “sonder skok”?

A: Die vrou het doelbewus voor die taxi ingedruk en verdien dus om op gespoeg te word.
B: Dié tipe gedrag simboliseer dalk alle taxibestuurders se houding teenoor medepadgebruikers in Suid-Afrika.
C: Die vrou in die BMW asook die taxibestuurder se onderskeie optredes dui op ’n gebrek aan wedersydse respek tussen Suid-Afrikaners van verskillende rasse en sosio-ekonomiese groeperinge.  
D: Die vrou het ’n ligte kalmeermiddel gedrink en raak dus nie ontsteld toe die taxibestuurder op haar venster spoeg nie.

C – Die leerder moet slegs die letter neerskryf.

Vraag 6

Wat is die funksie van die inkepings in die eerste en tweede strofes? Verduidelik. [1]

Die tipografie (inkepings) dui beweging in die gedig aan. Die digter gebruik sy digterlike vryheid om gestalte te gee aan die beweging en interaksie tussen die taxibestuurder en die vrou in die BMW.

Vraag 7

Na wie verwys die woord “ons” in die laaste versreël? [1]

Die woord “ons” verwys na Suid-Afrikaners / die Suid-Afrikaanse samelewing.

Vraag 8

Wat is die tema van die gedig? [1]

Gebaseer op die interaksie tussen die vrou in die BMW en die taxibestuurder wat hy waargeneem het, is die spreker van mening dat Suid-Afrikaners nog ’n lang pad moet loop om rasse- en klasseharmonie tussen Suid-Afrikaners te bewerkstellig.

Vraag 9

Verduidelik die figuurlike (konnotatiewe) betekenis van die spreker se opmerking in versreël 11: “(en hierso neem ek my afrit)”. (Daar sou as deel van die vraag bygevoeg kon word dat die leerders ook die letterlike betekenis moet verduidelik.) [1]

Die spreker sluit sy mening af met die slotversreël en hy gaan nie verder daarop uitbrei nie. (Die leerder dui aan dat hy/sy verstaan dat die spreker [wat die petalje waarneem] niks verder oor die saak te sê het behalwe om tot die gevolgtrekking te kom dat die verdeeldheid op grond van ras en klas nog aan die orde van die dag is in Suid-Afrika nie.) Letterlik dui dit ook aan dat die bestuurder (spreker) in ’n ander rigting verder ry.

Vraag 10

Hoe sou jy gereageer het indien jy die bestuurder in die BMW was? Gee ’n rede vir jou antwoord. [1]

Die leerder dui aan hoe hy/sy sou optree indien hy/sy die bestuurder van die BMW was. (Leerders se eie mening word hier verlang en leerders mag nie gepenaliseer word op grond van die nasiener se eie morele waardes nie.)

[Totaal: 10]

Bronnelys

Departement van Basiese Onderwys (DBO). 2011. Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring. Afrikaans Huistaal. Verdere Onderwys- en Opleidingsfase: Graad 10 tot 12. Pretoria: Staatsdrukker.

Marais, L. 2012. Kry my by die gewone plek aguur. Kaapstad: Tafelberg.

Lees ook:

Loftus Marais (1982–)

Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 6: Vraagstelling

Indeks: notas, toetse en vraestelle

The post Hulp vir opvoeders: ’n bespreking van Loftus Marais se "Verkeerswaarneming" appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 830

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>