Image may be NSFW.
Clik here to view.
- Rouxlyn Botha het ’n Meestersgraad in Omgewingswetenskap cum laude behaal. Sy is passievol oor die natuur. Sy skryf hierdie artikel spesiaal vir skoolkinders wat meer wil uitvind van die wêreld waarbinne ons leef.
Bzzzzzzzzzz zzzzzzzzzz zzzzzzzzz klap klap klap ... bzzzzzzzzz.
Jy ken dit! Maar het jy al ooit daaraan gedink om blou pajamas te dra? Blykbaar het president Paul Kruger toentertyd al sy slaapkamermure blou geverf om van muskiete ontslae te raak.
Kan dit so eenvoudig wees?
Miskien nie heeltemal nie, maar die meeste boererate het ten minste ’n klein bietjie waarheid in.
Muskiete kan nie so baie kleure soos mense sien nie. Blou is een van die kleure wat hulle nie kan sien nie, tesame met wit, groen en pers. Deur blou pajamas aan te trek, raak jy dus onsigbaar vir muskiete. Warm kleure soos rooi, oranje en swart lok weer muskiete, en dis beter om eerder nie hierdie kleure aan te trek op ’n warm somersaand nie.
Ongelukkig kan muskiete jou ook ruik, en selfs die koolstofdioksied wat jy uitasem, aanvoel. Hulle word ook gelok deur jou liggaamshitte. Blou pajamas is maar net een manier om dit vir hulle ’n bietjie moeiliker te maak om jou te kry.
So hoe kan ’n mens dan muskiete vermy?
Benewens blou pajamas dra kan jy ook seker maak dat daar geen stilstaande water rondom jou huis is nie.
Muskiete plant in stilstaande water voort. Die wyfies lê hulle eiers op die oppervlakte van die water. Die eiers broei na so twee dae uit en die larwes leef dan van alge in die water. Hulle moet wel gereeld na die oppervlak van die water kom om deur ’n sifon (soos ’n strooitjie) asem te haal. Mens kan hulle baie keer sien waar hulle aan die wateroppervlak “hang”. Larwes word dan papies wat ook in die water bly. Na omtrent vyf dae verander die papies weer in die volwasse muskiete wat kan vlieg en nie in die water bly nie. Afhangende van hoe warm dit is, kan die lewensiklus van die muskiet soms so kort as vyf dae wees. As dit kouer is, kan dit tot ’n maand duur voor die eiers tot volwasse muskiete ontwikkel.
Clik here to view.

Skets geteken deur die artikelskrywer
Gelukkig is daar ook ’n hele paar plante en diere wat jou kan help.
Voëls, soos swaeltjies, paddas, visse, naaldekokers en spinnekoppe eet muskiete en hulle larwes. Plante wat sterk ruik, soos laventel of sitronella, maak weer die muskiet se reuksintuie deurmekaar. Sy kan jou dan nie opspoor nie. As jy dus ’n klompie van hierdie plante in die tuin het, en seker maak dat daar genoeg blyplek vir voëls en ander insekte is, kan jy jou huis op ’n natuurlike manier muskietvry hou.
Muskiete sal jou ook uitlos as jy baie knoffel eet, maar jy moet dalk net in gedagte hou dat die meeste mense jou dan ook sal uitlos.
Muskiete is nie net irriterend nie, maar kan ook lewensgevaarlik wees. Hulle kan tot een miljoen sterftes per jaar veroorsaak, omdat hulle dodelike siektes soos malaria kan oordra.
Soos elke organisme op hierdie aarde, het muskiete egter ook ’n doel en ’n positiewe funksie. Slegs wyfiemuskiete eet bloed. Beide mannetjies en wyfies eet ook plantnektar en help daarom ook om die plante te bestuif. Sonder bestuiwing kan plante nie saad vorm nie. Verder is muskiete heerlike kos vir voëls en insekte. Muskiete kan selfs ook help om bloedklonte in mense met hartsiektes op te los!
So wees veilig en spring in daai blou pajamas. Smeer ’n bietjie sitronella aan en verwelkom die paddas in jou tuin. Maar onthou elke diertjie het sy plek, en sonder muskiete sou daar ook ’n hele paar ander plante en diere nie kon oorleef nie.
Lees ook:
Graad 10: Lewenswetenskappe, vraestel en memo, vierde kwartaal
The post Omgewingswetenskappe: Blou pajamas en muskiete first appeared on LitNet.
The post Omgewingswetenskappe: Blou pajamas en muskiete appeared first on LitNet.